http://www.jouwereld.co.za

BUITEMUURS: Ontsluit die kreatiwiteit

Elke na-skoolse aktiwiteit bring sy eie unieke voordele vir jou kind. Ons vertel jou meer!

deur Rozanne Myburgh

Foto deur D Sharon Pruitt; flickr.com

Geen kind kan heeldag net met sy neus in die boeke sit nie – ter wille van ‘n gesonde balans moet jou kind se ontwikkeling ook met buitemuurse aktiwiteite gestimuleer word. Dit is egter baie belangrik om die regte aktiwiteit te kry wat sy persoonlikheid komplementeer, en waarin hy boonop sy kreatiwiteit kan uitleef. Hou die volgende in gedagte wanneer julle op ‘n spesifieke buitemuurse aktiwiteit besluit:

● Kreatiwiteit is ‘n ontwikkelingsproses, daarom is kinders se kreatiewe uitdrukkings verskillend op verskillende ouderdomme.

● Die proses is altyd meer waardevol as die finale produk. Met kreatiewe klasse lê die klem op die ontdekking van die skeppingsproses – en nié om met ‘n meesterstuk huis toe kom of soos ‘n professionele danser te dans nie.

● Laat jou kinders toe om foute te maak. Einstein het gesê dat die persoon wat nog nooit ‘n fout gemaak het nie, nog nooit iets nuuts probeer het nie.

● Jy moet glo dat alle kinders kreatief is – onthou jou verwagtinge maak ‘n groot verskil!

● Die sleutelwoord is pret. Moenie jou kind dwing om iets te doen net omdat jý daarin belangstel nie. As jy dan so sterk oor ‘n spesifieke klas voel, gaan doen dit eerder self. Dit sal beter vir jou en jou kind wees én jy sal boonop vir jou kind ‘n positiewe voorbeeld stel. ‘n Mens is immers nooit te oud om te leer nie!

Elke besonderse buitemuurse aktiwiteit bring sy eie voordele vir jou kind – weet wat dit is en neem ‘n ingeligte besluit wanneer julle ‘n keuse maak:

Kitsgids:

Kuns / handwerk

Kookkuns

Dans

Drama

Gimnastiek

Tuinmaak

Modelwerk

Musiek

Nia

Wetenskap / tegnologie

Joga

Kuns / handwerk

Kuns is ‘n breë beskrywing vir ‘n hele spul aktiwiteite. Stel jou kind stelselmatig daaraan bloot en laat hy kies waarin hy belangstel. Jy kan beeldhouwerk, skilder, plakboekkuns, juwelekuns, handwerkklasse, naaldwerk, teken, mosaïek, lapverf en vele meer probeer. Dit alles sal natuurlik van wat in jou omgewing beskikbaar is afhang. Jy kan ook ‘n boek koop of by jou plaaslike biblioteek leen.

Die voordele van kuns- en handwerkklasse is legio. Die belangrikste daarvan:

● Dit leer kinders om meer verdraagsaam en oop vir nuwe ervarings te wees.

● Die kunste bevorder individualiteit, verbeter selfvertroue en verbeter jou kind se akademiese vordering.

● Kuns help ook probleemkinders met veral hul houding en ingesteldheid teenoor skoolwerk.

Navorsing het bewys dat kinders wat drie ure per week aan enige vorm van kuns spandeer:

● beter akademiese presteerders is;

● beter met wiskunde en wetenskap vaar;

● meer gereeld in die klas is; en

● meer gereeld aan groepaktiwiteite deelneem.

Kookkuns

Laat jou kinders kookkunsklasse bywoon en moedig hulle só aan om meer tyd in die kombuis te spandeer. Dit is ook ‘n heerlike aktiwiteit wat die hele gesin saam kan geniet!

Die korttermynvoordele van kookklasse:

● Dit motiveer kinders (en hopelik hul ouers ook) om nuwe, gesonde kossoorte te probeer.

● Kinders voel goed as hulle iets bereik het en ‘n bydrae in die familie kan lewer deur in die kombuis met hul nuutgevonde vaardighede te help.

● Jy kan jou kind vir ‘n rukkie van die televisie of die rekenaar weghou met ‘n prettige aktiwiteit wat baie meer in hul lewens sal beteken.

● As kinders leer hoe om vir hulself te kook, sal hulle minder geneig wees om gemorskos te eet. Hulle sien mos nou dis lekker, vinnig en maklik om te kook.

● Kinders wat kennis van gesonde eetgewoontes het, sal meer geneig wees om as volwassenes met ‘n gesonde eetprogram vol te hou.

● Jou kind leer op ‘n natuurlike manier lees en ontwikkel wiskunde- en wetenskapvaardighede.

● Jou kind leer fyn motoriese vaardighede en hand-oogkoördinasie aan.

● Kookkuns is ‘n vaardigheid wat kinders vir die res van hul lewens kan gebruik.

● Positiewe ervarings in die kookklas kan help om jou kind se selfbeeld te bou.

● Jou kind leer ook kulturele diversiteit met resepte uit verskillende lande en kulture.

Dans

Dit mag dalk vir jou logies klink dat kinders moet beweeg, omdat beweging natuurlik is vir alle mense en ontwikkelende kinders – maar hedendaagse kinders moet gemotiveer word om te beweeg.

Terwyl daar hope voordele aan televisie en rekenaars verbonde is, het dit van ons ‘n passiewe samelewing gemaak – vetsug by kinders neem daagliks toe. Beweging en dans bied ‘n geleentheid vir motoriese groei, ‘n uitlaatklep vir emosies en leer jou kind ‘n gevoel vir ritme aan.

Dans is pret en boonop goed vir jou, dit hou die volgende voordele in:

● Dit bou jou kind se selfvertroue en selfbeeld;

● Dit dra by tot jou kind se motoriese, emosionele, sosiale en kreatiewe ontwikkeling;

● Spierontwikkeling is baie belangrik vir kinders van alle ouderdomme en dans is ‘n prettige manier om kindervetsug te voorkom; en

● Kinders se ritme, sowel as taalvaardighede, sal verbeter.

Vir meer inligting, besoek die South African Dance Teachers’ Association: www.sadta.co.za

Drama

Dramaklasse het ‘n positiewe impak op jou kind se kognitiewe, fisieke, emosionele en sosiale ontwikkeling.

● Dramaklasse help om jou kind se selfvertroue te verbeter – hiérdie selfvertroue sal vir die res van sy lewe ‘n waardevolle les wees.

● Jou kind se verbeelding word ook gestimuleer. Hulle leer keuses maak, nuwe idees uitdink en bekende materiaal herinterpreteer.

● Kinders leer ook empatie met ander mense, tydperke in die geskiedenis en ander kulture in ‘n dramaklas. Hulle leer ook meer van emosies en die hantering daarvan.

● Samewerking is ‘n belangrike faktor in ‘n dramaklas. Dit gebeur op verskillende vlakke – in die besprekings, inoefening sowel as die optrede. As een nie sy deel doen nie, ly almal daaronder.

● Die konsentrasievermoë wat jou kind in die dramaklas aanleer, sal hom in sy skoolvakke help. Die tegnieke wat jou kind aanleer om tekste te memoriseer, kan hom ook help om vir toetse te leer.

● Drama verbeter verbale en nie-verbale sosiale en kommunikasievaardighede. Dit verbeter ook spraak- en luistervermoëns.

● Improvisasie leer kinders probleemoplossingstegnieke en help hulle om situasies met selfvertroue te hanteer.

● Drama is pret en ‘n goeie emosionele uitlaatklep.

● Dit leer jou kind selfdissipline en vertroue in ander mense.

● Jou kind se geheue word ook verbeter – want die arme bloedjie moet al die woorde onthou!

Gimnastiek

Gimnastiek is een van die veelsydigste sportsoorte ter wêreld. Dit bied jou kind ‘n hele spektrum van lewensveranderende voordele en sal hulle voorberei vir hul toekoms. Hulle leer wel motoriese vaardighede, maar jy sal ook ‘n verbetering in hul sosiale en intellektuele vaardighede sien. Kinders sal meer buigsaam wees en beter balans en ‘n gevoel vir ritme hê. Daarby sal hul selfbeeld en selfvertroue ook verbeter. Konsentrasievermoë, luistervaardighede en die vermoë om opdragte uit te voer sal ook aangeleer word. Jou kind word ook die kans gegun om in ‘n veilige omgewing risiko’s te neem en vir hulself uitdagings te stel.

Tuinmaak

Die nuutste groepklas-aktiwiteit wat jou kind in kan deelneem, is tuinmaakklasse.

Dit klink dalk eenvoudig, maar die voordele van so ‘n klas spreek vanself:

● Kinders leer meer van plante, die natuur en tuinmaak.

● Hulle neem deel en kry ondervinding.

● Jou kind kry ‘n geleentheid om suksesvol te wees in iets wat hy aanpak in ‘n plesierige omgewing.

● Dit leer jou kind verhoudings met sy maats en met volwassenes.

● Dit is ook ‘n goeie geleentheid vir die familie om saam ‘n nuwe vaardigheid aan te leer en sodoende kwaliteit-tyd saam te spandeer.

Modelwerk

Modelwerk is ‘n aktiwiteit wat deur sommige ouers as redelik kontroversieel beskou word. Dit bly jou keuse waaraan jy jou kind blootstel, en jy moet ook, as ouer, jou gesonde oordeel gebruik om te sien wat goed vir jou kind is.

Baie kinders ervaar modelwerk as pret. En hulle kan boonop ‘n inkomste daaruit verdien. En solank dit pret bly, is dit ‘n uitstekende manier om jou kind se selfvertroue en selfbeeld te verbeter. Dit leer ook jou kind op ‘n gesonde manier van kompetisie en konflikhantering.

As jou kind in modelwerk belangstel, kontak ‘n agentskap wat in modelwerk spesialiseer. Hulle sal dan foto’s van jou kind neem en Z-kaarte laat druk wat aan adverteerders en kliënte uitgedeel word sodat hulle modelle vir hul spesifieke doel kan kies. Let maar mooi op na jou kind – jy sal weet of sy ‘n persoonlikheid het wat modelwerk sal geniet.

Musiek

Musiek is opwindend vir kinders van alle ouderdomme. Ja, letterlik oud en jonk kan die kind in hulle ontdek deur musiek.

Jou kind sal só deur musiek bevoordeel word:

●Musiek help kinders met hul skoolwerk. Veral wiskunde, ruimtelike oriëntasie en kognitiewe ontwikkeling verbeter aansienlik wanneer kinders musiek neem.

●Dit neem harde werk en toewyding om ‘n musiekinstrument aan te leer. Juis daarom verbeter elke musiekstuk wat jou kind aanleer hul selfvertroue. Dit leer kinders ook ‘n positiewe houding teenoor ingewikkelde take.

●Musiek verbeter jou kind se koördinasie. Dit help nie net met fyn motoriese ontwikkeling nie, maar ook met komplekse denkprosesse.

●Om ‘n musiekstuk aan te leer, verg konsentrasie, interpretasie, kritiese en kreatiewe denke. Hierdie vaardighede is waardevol op alle ander vlakke van jou kind se lewe.

●Dit stel jou kind bloot aan ander tipe musiek – nie net hedendaagse musiek waarna hul vriende luister nie, maar Mozart en Chopin ook.

Nia

Nia se hoofdoelwit is om die hele gemeenskap gelukkiger, gesonder en fiksser te maak – en dit alles terwyl jy pret het. Dit word beskryf as bewegende meditasie. Op ‘n fisieke vlak is Nia ontwerp om jou krag en buigsaamheid te bevorder. Dit help ook met koördinasie en oefen jou maagspiere sonder om opsitte te doen. Nia is ‘n kombinasie van gevegskuns, joga en ander dansdissiplines.

Kinders is dikwels onder druk om te presteer – Nia bied hulle egter die geleentheid om kaalvoet op musiek te beweeg in ‘n nie-kritiese, vrolike en kreatiewe omgewing.

Vir meer inligting besoek www.niagp.co.za

Wetenskap / tegnologie

Dit is belangrik vir kinders om te sien, te dink en te ontdek. Dit is waarom dit waardevol kan wees om jou kind vir ‘n buitemuurse wetenskap- / tegnologieklas in te skryf.

Kinders is immers van nature nuuskierig en hulle wil met duisende “hoekoms” probeer sin maak van hul wêreld.

Gaan doen navorsing op die internet vir ‘n wetenskapwerkswinkel vir kinders wat naby jou geleë is.

Vir meer inligting, besoek ook:

http://www.ctworkshop.co.za

http://www.geniuslab.co.za/

TechnoLab van die Universiteit van Johannesburg

Joga

Kinders is natuurlike jogi’s – heel onskuldig en spelerig. Joga bied aan kinders die geleentheid om aan hul kinderlike wysheid en skoonheid vas te hou.

Die voordele van joga:

● Dit ontwikkel fisieke koördinasie en fiksheid;

● Verbeter linker- en regterbreinkoördinasie;

● Versterk jou konsentrasie;

● Stimuleer emosionele bewustheid en groei;

● Verbeter selfvertroue;

● Bou sosiale vaardighede; en

● Bevorder jou kreatiwiteit.

<div style=”text-align: right;”><i><a href=”#bo”>terug na bo</a></i></div>

Vir meer artikels soos dié, besoek jouwêreld, die grootste maandelikse Afrikaanse e-tydskrif vir die hele gesin.

SPESIALE BYLAAG: joukind, jouleefstyl